DIE 2024 KALFIEFEES HERMANUS KUNSTEFEES – ‘N FEES VIR DIE HELE GEMEENSKAP

PERSVERKLARING: DIE 2024 KALFIEFEES HERMANUS KUNSTEFEES – ‘N FEES VIR DIE HELE GEMEENSKAP

Welkom, welcome, wamkelekile in die allermooiste Overstrand!

Die 2024 Kalfiefees Hermanus Kunstefees verwelkom graag weer vanjaar gehore uit alle windrigtings van Donderdag 1 Augustus tot Sondag 11 Augustus (wat die Vrouedag-langnaweek insluit).

Wat ‘n spesiale hoogtepunt is dit nie om die 24ste Kalfiefees op die planke te bring nie! Vanjaar se feesprogram is tjok-en-blok met aanbiedinge deur wêreldklas-kunstenaars van reg oor die land. Feesgangers kan oudergewoonte uitsien na iets vir elke smaak - van drama en komedie tot musiek, dans, kinderteater, boekbesprekings, kuns én leefstyl.

Die fees lok elke jaar groot name en vanjaar is geen uitsondering nie. Met legendariese ikone tot van Suid-Afrika se blinkste nuwe sterre, kan jy uitkyk vir Sandra Prinsloo, Tobie Cronjé, Deon Meyer, Elzabé Zietsman, Neil Sandilands, Frazer Barry, Lyntjie Jaars, Schalk Joubert, Jak de Priester, Amanda Strydom, Jannie du Toit, Daniel Anderson, Mel die storieverteller, Lara Hattingh, Jeremeo le Cordeur, Dean Smith, Ignatius van Heerden en vele meer.

Laai die feesprogram hier af:
Volle program
Hoofprogram
Kunsprogram

GEMEENSKAPIMPAK
Die Kalfiefees ondersteun verskeie gemeenskapsprojekte in die Overstrand en in 2024 sien ons uit na selfs nog groter betrokkenheid. Sodoende kweek die fees ‘n liefde vir die kunste waaruit toekomstige kunstenaars en gehore kan ontwikkel.
Die fees is sedert 2023 betrokke by StoryTeam en The Cave Theatre in die Ou Hawe-museum in Hermanus, wat 'n ruimte skep vir jong akteurs om hul vaardighede te ontwikkel. Vanjaar sal wins uit kaartjieverkope aangewend word om hierdie kreatiewe ruimte verder te verbeter en nog meer talent te ontwikkel.
Die Kalfiefees bied ook aan plaaslike skole die geleentheid om hul eie produksies aan te bied en aan kinders en studente om in professionele vertonings op te tree. Vanjaar is daar die skoolproduksies Skaakmat en (Oor)Vloed om na uit te sien, samewerking met Creative Space Hawston, die Catapult Foundation en Pierre & Pauli Productions, asook Star Search Overstrand.
Die opbrengs van die Kalfiefees se boekbekendstellings ondersteun ‘n projek in Zwelihle en Mount Pleasant waar vrywilligers weekliks vir kinders voorlees en ons skooltas- en skryfbehoefteprojek vir behoeftige graad 1-leerders maak aan die begin van elke jaar 'n groot verskil in kinders se lewens.

BOEKVOORLESINGS
Wat is ‘n fees sonder boekbesprekings? Tien gesprekke met van ons gewildste Afrikaanse skrywers by die Hermanus-biblioteek beloof om menige boekwurms se belangstelling te prikkel. Van die skrywers sluit in Deon Meyer, Jak de Priester, Amore Bekker, Sidney Gilroy, Rudie van Rensburg, Riku Lätti, Ilse Verster en Charmaine Africa.

KINDERTEATER
Zoeki & Toeks, Poplap die lappop, Die Keiser Se Nuwe Klere, Land of Grey en Princess With the Dragon-heart gaan die kleinspan vermaak.

KUNS
Maak jou reg vir ’n besonderse ervaring by vanjaar se Kalfiefees-kunsuitstalling, waar ’n formidabele verskeidenheid kunstenaars uit die Overberg hul werk gaan uitstal in Hermanus se Nuwe Hawe by die ou Lusitania (Multi Purpose Centre) gebou.
Fynkuns en handwerk deur grafiese ontwerpers tot ingenieurs en aptekers wat deesdae ook kunstenaars is, sal te sien en te koop wees. Wees ook op die uitkyk vir foto’s en handwerk soos keramiek en juwele. Almal werk saam om Hermanus die kunsmekka van Suid-Afrika te maak.

LEEFSTYL WERKSWINKELS
Besoekers aan vanjaar se Kalfiefees kan aan ‘n groot verskeidenheid kreatiewe slypskole deelneem. Bring ‘n vriend of vriendin saam en maak iets moois met jou eie hande.
By De Pottebakker kan jy van porseleinoorbelle, knyppotte, botaniese fossielteëls tot huisnommerteëls skep. In die kunsafdeling is daar werkswinkels vir waterverf, bloudrukwerk, houtskooltekeninge, gemengde-media en abstrakte kuns. Neurografie, sosiale media vir kunstenaars, Juweliersware-slypskool, hoed-/tekkie-/denim-versiering en die skep van meesterlike koekies met ‘n see-tema is ook op die spyskaart.

FILMS UIT DIE ARGIEF
Die Kalfiefees vertoon vanjaar beminde Suid-Afrikaanse films soos Fiela se Kind, Paljas, The Gods Must Be Crazy en Die Storie van Klara Viljee en meer by die gewilde oudhede winkel, Romantiques, se rolfilmteater.

FOTOGRAFIEPROGRAM
Fotografie-entoesiaste het baie om na uit te sien met die Kalfiefees fotografie-uitstalling in die Ouditorium Banketsaal. Daar word ook werkswinkels aangebied vir straatfotografie, sand, see en surf, asook geskiedkundige beelde van Hermanus.

GESONDHEID EN WELSTAND
Joga, dromsirkels vir volwassenes, self-help klasse, dans en vele meer word met die Gesondheid- en Welstand-program gedurende die Kalfiefees aangebied by Wholeness Haven, Kwaaiwater in Hermanus.

KALFIEFEES-TYD IS KUIERTYD OP HERMANUS
Die Kalfiefees se naam is ontleen aan die tyd van die jaar wanneer die walvisse na Walkerbaai kom om te kalf. Bo en behalwe die fees se veelsydige aanbod van teater, musiek, kuns en leefstyl, bied die Overstrand ‘n uitsonderlike keuse van restaurante en wynplase asook aktiwiteite soos staproetes aan die kus. Wie weet, dalk verras ‘n walvis of twee jou selfs! Besoek Hermanus Toerisme se webwerf https://hermanus-tourism.co.za/ vir meer inligting. Bespreek sommer nou al verblyf tydens die Kalfiefees van 1 tot 11 Augustus.

Die Kalfiefees-gids kan hier besigtig en afgelaai word.

KAARTJIES TE KOOP BY TIXSA
Kaartjies vir alle vertonings, werkswinkels en uitstallings is op die aanlynplatform Tixsa te koop by https://tickets.tixsa.co.za/events/32614
Vir kaartjienavrae, skakel 012 880 26 35 of e-pos: support@tixsa.co.za (Maandag tot Vrydag 09:00-17:00, Saterdag 10:00-14:00, Sondae en vakansiedae 10:00-13:00).

KALFIEKANTOOR URE EN KONTAKBESONDERHEDE
Die Kalfiefees kantoor by die De Wet Saal (Roosstraat 8, Onrusrivier) is vanaf Maandag 24 Junie 2024 oop vir diegene wat vandaar kaartjies wil bespreek.
Kantoorure – Maandae tot Saterdae 10:00 – 13:00.
Vir meer inligting, besoek die Kalfiefees Hermanus Kunstefees webtuiste by https://kalfiefees-hermanus.co.za/, e-pos admin@kalfiefees.co.za of skakel +27 61 520 9041. Volg ons op sosiale media op Facebook en Instagram @KalfiefeesHermanusKunstefees.

EINDE

UITGEREIK DEUR
Yolandi de Wet PR
yolandi@yolandidewetpr.co.za
082 772 7519

NAMENS
Kalfiefees Hermanus Kunstefees
Kontak: Hester Finberg
hester@kalfiefees.co.za
083 308 3002

Back…